DRAERS VAN DIE BOODSKAP
Die Beweging berus op ’n Christelik Afrikaanse grondslag.
Strewe
Die Rapportryerbeweging streef daarna om: Die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in sy Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.
Patriotisme en ‘n lojale samehorigheidsgevoel in eie geledere en onder almal wat die Rapportryerbeweging se grondslag en doelstellings aanvaar, te bevorder.
Leuse
Die leuse van die Rapportryerbeweging, DRAERS VAN DIE BOODSKAP, ondersteun die wese van die beweging.
Ontstaan van die Rapportryerbeweging
Met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 , het daar perdekommando’s van dwarsoor die land, selfs vanuit die voormalige S.W.A. en Rhodesië, na Pretoria met groeteboodskappe vertrek.
Die gedagte het by hulle ontstaan om ‘n reünie van hierdie “Rapportryers” te hou, en ‘n klub te stig vir Afrikaners, waar hulle hul Christenskap en Afrikanerkultuur kan uitleef, gesellig saam kan verkeer en net doodeenvoudig lekker kuier.
Die klub is toe die volgende jaar in die destydse bekende Bloukamer te Parkstasie in Johannesburg gestig en het bekend gestaan as die Rapportryerklub. Die klub het dinamies gegroei tot die landwye volksdiens- en kultuurbeweging, bekend as die die Federasie van Rapportyerskorpse.
Mettertyd is die Junior Rapportryers ook gestig vir manne onder 35 jaar oud. In 2000 het die Federasie van Rapportryerskorpse ontbind en saamgesmelt met die Junior Rapportryerbeweging, waarna die naam verander is na die Rapportryerbeweging.
Hoe lyk die Rapportryerbeweging Vandag?
Die RRB bestaan uit korpse wat in elke dorp of stad gevestig kan word. Daar kan meer as een korps in ’n dorp of stad wees. Korpse in ‘n provinsie werk nou saam.
Korpse hou normaalweg eenkeer per maand ’n vergadering of byeenkoms. Getrou aan tradisie word dit dikwels met ‘n vleisbraai afgesluit. ‘n Provinsiale vergadering of beraad word elke tweede jaar gehou - die jaar waarin daar nie 'n landsberaad plaasvind nie. Die provinsiale vergadering/beraad word deur soveel lede moontlik van die betrokke provinsie, bygewoon. Die voorsitter wat tydens hierdie byeenkoms verkies word, dien ook as lid van die Rapportryerraad. ‘n Raadslid word elke tweede jaar tydens die vergadering / beraad van die provinsie verkies, om in die Rapportryerraad te dien.
Die Rapportryerraad van die RRB vergader, soos omstandighede dit vereis, twee keer per jaar. Indien nodig, hou hulle ook telefoonkonferensies. Die Landsberaad, wat deur alle lede bygewoon kan word, word elke tweede jaar gehou.
Beraadgangers woon gewoonlik gesamentlik ‘n kerkdiens die Sondag by, alvorens hulle uitmekaar gaan.
Die RRB is ‘n nie-winsgewende en ’n nie-politieke organisasie. Ledegeld word van tyd tot tyd deur die Rapportryerraad vasgestel. Veteraanlede, gesinslede en lede onder die ouderdom van 27 jaar, kom in aanmerking vir ledegeldtoegewings.
BOODSKAP VAN DIE PRESIDENT

Johan Roos
President
ONS VERWESENLIK ONS TOEKOMSBEELD DEUR DIENSBAARHEID
Daar word beslis nie aan geesdrif en ondernemingsgees gebrek gelei nie. Inteendeel, die energievlakke is werklik hoog en daar heers groot opgewondenheid oor die toekoms, en dit wat op die RRB wag; dit wat die lede graag wil sien gebeur en ervaar.
Die RRB-landsberaad wat vanjaar plaasgevind het, die nasionale vlagskipprojek, die Bybelvasvra vir Laerskool leerlinge wat pas afgehandel is, is sprekende voorbeelde hiervan. Op plaaslike vlak slaag RRB-korpse uitstekend daarin om nie net nasionale projekte te hanteer nie, maar uitstaande plaaslike projekte word ook met groot geesdrif en met baie ywer suksesvol afgehandel. Die publiek ondersteun die projekte baie goed en spreek gereeld hul dank en waardering uit teenoor die RRB.
Wat baie opvallend van RRB-lede is, is dat hulle ten volle Suid-Afrikaans is. Christenskap, integriteit, lojaliteit en wedersydse vertroue is van die uitstaande kernwaardes wat die RRB kenmerk. Ons as lede van die RRB is hier om te bly. Daaroor moet beslis geen twyfel bestaan nie. Alle burgers van Suid-Afrika moet hiervan kennis neem; só ook die president en regering van die dag. Ons wil graag 'n hand van vriendskap na almal in ons land uitreik, en deelnemende burgers wees. Ons wil sien dat ons Beweging in samehorigheid groei tot voordeel van almal in ons pragtige land Suid-Afrika.
Met dit wat tans binne die RRB gebeur, is die verwagtinge baie hoog. Die RRB-raad, wat ooglopend deur jonger lede oorheers word, skep vertroue, en selfs gemoedsrus, dat die RRB gedurende die volgende paar jaar werklik sal groei, en nog duideliker sy stempel op die Afrikanerkultuur tot voordeel van almal sal afdruk.
Wat baie verblywend is, is dat die RRB besig is om 'n tuiste vir jong Afrikaners te word. Hier voel hulle tuis en kan hulle hul gedagtes deel en uitspreek met mede-Afrikaners, wat net soos hulle voel en dink, en saam die toekoms beplan.
Alle belangstellendes is welkom om die RRB te kom ervaar Ek is daarvan oortuig dat u die RRB baie sal geniet en eenvoudig as lekker sal ervaar. Dit wat binne die RRB gebeur laat mens onwillekeurig dink aan C.J. Langenhoven se mooi woorde:
“IN WATTER TAAL KAN JY NOG SÊ, WAT IS LEKKERDER AS DIE LEKKERSTE LEKKER”
Johan Roos
President